Woonwakampeerders kla oor tariewe

gh20120831-073012-021MOSSELBAAI NUUS – Woonwakampeerders van regoor die land is hoogs beswaard oor die Munisipaliteit se buitengewone hoë tariefaanpassings van meer as 30.6% op kampgeriewe in Mosselbaai se gewilde Punt-, Santos- en De Bakke woonwaparke.

Hierdie parke lok jaarliks, veral in die spitstye, honderde woonwa kampeerders wat waarskynlik nou hul rus elders sal gaan soek. Gereelde kampeerders en ander toeriste is egter ‘n belangrike lewensaar vir die plaaslike ekonomie wat reeds noustrop trek.

Seefront staanplekke kos kampeerders nou R470 per dag, vergeleke die R360 per dag van 2011.

Hierdie styging word vergelyk met die inflasiekoersaanpassing van ongeveer 6%. Hulle voer ook aan dat die gemiddelde prysaanpassing vir Santos Karavaanpark vir die afgelope 10 jaar gemiddeld 11.02% was, teenoor die gemiddelde inflasiekoers van 5.94%. Die aanpassing was dus reeds byna dubbeld die gemiddelde inflasiekoers en gevolglik het die styging van 30.6%, wat bykans vyf keer die gemiddelde inflasiekoers is, as ‘n onverwagse skok gekom.

Kampeerders het in 2004 die Mosselbaai Kusfront Bewaringsforum (MKBF) gestig om die beplande hoëdigtheid ontwikkeling op woonwakampterreine teen te staan. Die MKBF het in hierdie doel geslaag en die Munisipaliteit is in 2009 gedwing om die kontrak met Attpower te kanselleer.

Op uitnodiging van die Munisipaliteit het die MKBF gereeld ‘n mening en advies oor die verbetering en prioriteite van instandhouding van die woonwaparke gegee. Dit was in die lig van hierdie verhouding dat daar sedert Desember 2011 met die Munisipaliteit in gesprek getree is met die oogmerk om kollektief met die plaaslike owerheid te beding oor hierdie onaanvaarbare tariefverhogings.

Die MKBF het die Munisipaliteit in ‘n skrywe gemaan dat: “Die huidige pryse vir 2012 sal verseker lei tot afname in besetting want baie van die gereelde kampeerders sal dit nie meer kan bekostig nie. Tans (Desember 2011) het 28 dae (se verblyf) R10 080 gekos en met die nuwe tarief verhoog dit dan na R13 160.”

Die verhogings bring mee dat die sakegemeenskap van Mosselbaai ‘n inkomste ontneem word. Gereelde kampeerders gaan waarskynlik net minder spandeer om hierdie verhoging te absorbeer.

Die Munisipaliteit het in antwoord op die MKBF se skriftelike besware teen die tariefaanpassings op 12 April geantwoord dat “…die Forum moet besef dat indien u vyfster fasiliteite wil hê, u daarvoor sal moet betaal.”

Die MKBF wys egter daarop dat die fasiliteite juis nie vyfster weelde bied nie en meen, in vergelyking met ander fasiliteite, kwalifiseer Mosselbaai se fasiliteite nie eers vir een ster nie, met uitsondering van Die Punt wat ‘n een ster gradering kan kry.

Nog ‘n beswaar is die verpligte minimum besprekingstydperk van 25 dae vir seefront staanplekke. Sou ‘n kampeerder egter dieselfde staanplek vooruit vir die volgende jaar wil bespreek, moet dieselfde tydperk weer bespreek word en die deposito terselfdertyd betaal word.

Kampeerders is ook beswaard oor die toestande van die woonwaparke. Hulle het die Munisipaliteit skriftelik versoek en hul versoek met foto’s gemotiveer dat, ondermeer, Santos Woonwapark se staanplekke meer gelyk gemaak moet word. Staanplekke kort ook behoorlike wateraflei-slootjies en behoort duidelik gemerk te word.

Gebruikers van die ablusiegeriewe by Santos blok vyf kla oor die toestand en vra dat net basiese instandhouding gedoen word. Daar is blykbaar nou aandag gegee aan blok vyf. Die Munisipaliteit het wel die afgelope jare basiese instandhouding aan een blok per jaar gedoen.

Trappe en reelings by die bo-punt van Santos, net noord van die Pavillion Restaurant, is na bewering ook gevaarlik verweer en skep ‘n gevaar veral vir ouer mense wat daarlangs strand toe loop. Boonop is die paadjie vandaar na die restaurant so san-dering dat dit ook gevaarlik is.

In 2011 is kragproppe vervang met die standaard woonwa-tipe proppe. Die installasie was egter onwettig en gevaarlik. Die vraag is hoe so ‘n belangrike projek aanvaar en die werk as korrek afgeteken is want kampeerders moes met plastieksakke en allerhande innovasie verhoed dat water by die proppe inkom en mense beseer.
Die gebrek van nooduitgange is ook aan die munisipaliteit geopper.

Die MBKF het ook ‘n klein kiosk bepleit waar kampeerders hul daaglikse benodigdhede soos brood en melk kan aankoop en bevraagteken waarom houtverkopers op die terrein toegelaat word, maar koerantverkopers nie.

Die Munisipaliteit het die MBKF daarop gewys dat ‘n openbare deelname proses die tariefaanpassing voorafgegaan het, maar die werklikheid is dat die gros van die gereelde kampeerders regoor die land versprei is nie op die kennisgewing kon re-ageer nie omdat hulle gewoon nie daarvan geweet het nie.

Die MBKF vra ook dat Mosselbaai Toerisme direk betrokke gemaak moet word met die bemarking van die kampeerterreine om meer kampeerders na Mosselbaai te lok, en om seker te maak dat veral ‘n gedeelte van Santos Woonwapark ten minste die hele jaar vir toeriste oopgestel sal word.

Veral kommerwekkend is die feit dat hierdie toedrag van sake nasionaal op webwerwe en sosiale kletskamers soos www.wegsleep.co.za bespreek word. Onder andere het ‘n Wegsleep forumlid op 2 April geskryf: “Dit wil voorkom of die kampers die gewillige koei is wat gemelk kan word, want bly ons weg, kan die oorde mos maar vir ander doeleindes gesoneer word, want kampers gebruik dit nie meer nie… of ons bly en word uitgeroei. …Ons het alreeds in Desember 2011 heelwat oop staanplekke gehad in die parke en is van mening dat hierdie stap tot nog meer leë staanplekke gaan bydra wat teen-produktief sal wees vir die besluit (om die tariewe te verhoog).”

Die konsepvoorstelle vir die herontwikeling van die Punt area behels, onder meer, die inkorting van die woonwapark daar met tot 30%.

 

Source:

http://www.mosselbayadvertiser.com/news/News/General/34875/Woonwakampeerders-kla-oor-tariewe