Uit die Pen van die Voorsitter

Logo

9de November 2015

Uit die pen van die voorsitter:

Koerant berig

ONS HET BO-UITGEKOM, ONS IS OORWINNAARS!! Eerstens wil ons, ons Hemelse Vader dankie sê vir die krag en die wysheid wat Hy ons gegee het om te kon doen wat ons gedoen het. Ons wil net namens die MKBF se komitee verder vir elke lid baie dankie sê vir julle bydraes, opoffering en ondersteuning die afgelope dertien jaar wat dit ons gevat het om hier uiteindelik uit te kom.  Ons wil in besonder as komitee vir ons voorgangers naamlik Boeka Nieder-Heitmann en almal wat saamgespan het, om dit wat onmoontlik gelyk het teen te kon staan en verbete terugbaklei het vir ons kampe en hul voortbestaan.

Die eerste doelstelling van die MKBF was om die kontrak wat aan AttPower toegeken is, gekanselleer en tot niet verklaer te kry – Ons het die oorwinning gesmaak na 7 lange jare.

Tweede doelstelling was:

  1. Die langtermyn bestaan van die karavaan parke en sodoende ons erfnis te verseker
  2. Dat die karavaan parke reg deur die jaar oop sou wees
  3. Dat die karavaan parke ʼn ster gradering sou ontvang
  4. Die moontlikheid van ʼn kiosk waar brood, melk, koeldrank, ys ens. verkry kon word
  5. Die moontlikheid van ʼn saal waar speletjies aangebied kan word vir die kinders

En na nog ʼn verdere 5 lange jare is ons nou uiteindelik hier, sjoe!

Wat die toekoms vir ons inhou dit weet ons nie verseker nie, maar as ons terugkyk na Desember 2003 dan lyk die toekoms vir ons soos die somer sonsopkoms oor die see in Mosselbaai.

Ons moet nooit Desember 2003 en die dertien jaar wat daarop gevolg het vergeet nie. Die geskarrel om inderhaas vergaderings te belê, die bymekaar sit van ʼn konstitusie en geld insamel om die proses aan die gang te sit.

Die jare waar Oom Johan Steenkamp in sy eie tyd die dorings gaan uittrek het om dit vir die kampeerders ʼn genot te maak om te kampeer. Waar die kampeerders die toilet deure self reggemaak het om net die nodige privaatheid te kon verseker. Die vyandskap, die onsekerheid of ons die stryd gaan wen. Die planne wat gemaak moes word wanneer onverskuilde agendas sou op kom en die oorwinning wou kelder.

Maar in dit alles is daar een ding wat soos ʼn paal bo water vasstaan en dit is dat die kampeerders in mosselbaai se woordeskat bevat nie die woord opgee nie. Hulle glo werklik in aanhouers wen.

Die pad vorentoe:

Die komitee van die MKBF voel dat die forum nog ʼn rol te speel het. Ons siening is dat ons met die nuwe bestuur wil saam werk met voorstelle en ondersteuning in welke mate dit kan bydra tot ʼn blink nuwe toekoms vir die parke. Ons verstaan ook verder dat die nuwe bestuur sekere verantwoordelikhede wat die kontrak op hulle plaas moet nakom en in die raamwerk van dit sal ons as forum graag met hulle wil saamwerk om dit die beste kampgeriewe denkbaar te maak. 

Algemeen:

Die nuwe bestuur vat die 1ste Desember die leisels oor en dit is verstaanbaar dat in die oorname sal daar haakplekke wees. Ons wil dus ʼn beroep op alle kampeerders van Santos en De Bakke doen om alle korrespondensie en kwitansies rondom jul bespreking saam te bring om frustrasie en ongelukkigheid te vermy. 

Ons beplande jaarvergadering:

  • Datum: 18de Desember
  • Tyd: 10h00
  • Plek: Santos karavaanpark agter die kantoor.

 Vooraf vergadering:

  • Datum: 18de Desember
  • Tyd: 08h30
  • Plek: Punt karavaan park agter die kantoor

Kersdiens:

  • Datum: 25ste Desember
  • Tyd: 09h00
  • Plek: Santos karavaanpark agter die kantoor.

 Dit is al wat ek op die hart het.

Vakansie Groete

Reinhard Dreyer

Voorsitter

Mosselbaai Kusfront Bewaringsforum