Die Burger: Nuus oor woonwaparke verbly forum

Nuus oor woonwaparke verbly forum

JAN TALJAARD

MOSSELBAAI. — Die Mosselbaaise Kusfront-bewaringforum (MKB) het die nuus verwelkom dat die woonwaparke aan die kus nog vanjaar aan kampeerders beskikbaar sal wees.

Mnr. Boeka Nieder-Heitman, voorsitter van die MKB, het gister gesê dit het harde werk agter die skerms gekos om die munisipaliteit te laat afsien van “ekonomiese selfmoord” en steeds die kam peerplekke beskikbaar te hou vir die 2004-’05-vakansieseisoen.

Die kampeerplekke by De Bakke-, Santos- en Diazstrand is nou reeds etlike maande lank ‘n twispunt sedert die munisipaliteit sy ontwikkelingsplanne vir die kusfront bekend gemaak het.

Volgens die planne sal die kampeerterreine in die slag moet bly om plek te maak vir meer volhoubare ontwikkelings langs die kusfront.

Die munisipaliteit hou voldat die kampeerplekke tot dusver nog net ‘n verlies gely het of marginaal winsgewend was en dat die stadsraad die gebied moet ontwikkel om ‘n volhoubare inkomste vir die verbetering van die infrastruktuur te kan skep.

Onder die beoogde ontwikkelings is luukse laedigtheidbehuising, winkels vir ontwerpersklere en die uitbreiding van die strandpaviljoen.

Volgens Nieder-Heitman besef die forum dat ontwikkeling werklikheid is. Hulle kan egter nie hul steun gee aan ‘n projek wat misken dat die kusstrook ‘n nasionale bate is wat deur alle Suid-Afrikaners geniet moet word nie.

“Ons wil dus ons lede aanmoedig om vanjaar in groot getalle te kom kampeer, ondanks die negatiewe op- of aanmerkings van ons burgemeester (mnr. André Nel),” het Nieder-Heitman gesê.

Volgens hom sal die nodige aansoekvorms vir ‘n kampeerplek binne die volgende paar dae aan lede gestuur word.

http://m24arg02.naspers.com/argief/berigte/dieburger/2004/03/17/DB/8SK/03.html